Wednesday, August 31, 2011

Paraatheid en die anderkant van die muntstuk

Wanneer God jou lei om met iemand te praat oor sy foute moet jy nie bang wees nie.  Moet ook nie argumenteer of druk toepas op die persoon nie.  Sê net dit wat God op jou hart geplaas het en laat dit daar, jy plant die saadjie.  Dis die Heilige Gees se werk om hom te oortuig, nie jou werk nie.  God het die regte tyd bestem om daardie persoon se "trotse, hardkoppige, eie ek" gewillig te maak om te buig voor Hom.  Onthou ook dat wanneer dit jou beurt is om gekonfronteer te word, jy nie jouself verdedig of jou optrede probeer verduidelik nie.  Aanvaar dit in stilte en dank die ander persoon wat jou terreggewys het en dank God daarvoor.  Gaan nou en gaan raadpleeg God oor hoe jy dit moet hanteer.

Jes 50:10 "Wie van julle dien die Here en doen wat Sy dienaar sê?  Hy wat sonder enige lig in die donker loop, moet vertrou op die Naam van die Here en staatmaak op sy God."

Tuesday, August 30, 2011

Ontvang die seën

Soos die Heilige Gees jou lei in nederigheid en liefde tydens terregwysing, sal die ander persoon gewillig word om daardie sonde af te lê voor Jesus, mits die persoon 'n werklike nederige en ontvanklike gees het.  Hy sal dankbaar wees vir die terregwysing, want wanneer ons sonde nie aflê of ander toelaat om ons in die regte gesindheid terreg te wys nie, blokkeer ons die seën wat God bestem het vir ons lewe.  Die persoon wat jy terreggewys het, sal weet dat jy dit doen in liefde en omdat jy besorgd is, nie omdat jy selfsugtige motiewe het nie.  God sien immers alles wat in ons hart aangaan.


Johannes 9:39 "Jesus sê toe:  Ek het na hierdie wêreld toe gekom om te oordeel sodat die mense wat nie sien nie, kan sien, en die wat sien, hulle blindheid kan ontdek."

Monday, August 29, 2011

Die wyse van terregwysing

Wanneer jy by die kruis jou liefdelose gesindheid teenoor ander bely in 'n gesindheid van opregte berou teenoor die Heilige Gees, kan jy bid dat Jesus jou vergewe.  Jy kan verseker wees in jou hart dat wanner dit in opregte berou gedoen is, Hy jou sal vergewe.  Die Heilige Gees sal jou hart verlig en jy kan weet dat dit net 'n projeksie van iets binne-in jouself was wat afgelê is as sonde.  Die liefdevolle terregwysing mag verborge dinge openbaar waarvan ons skaars bewus was.  Die verskil is net dat die Heilige Gees jou nou moet lei om hierdie persoon in liefde en nederigheid terreg te wys en die die "eie ek" in jou nie.

2 Kor. 6:2 "Op die regte tyd het Ek jou verhoor, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.  Dit is nou die geskikte tyd;  dit is nou die dag van verlossing."

Friday, August 26, 2011

Juanita du Plessis se gebed

Liewe Heer
Hou elkeen asseblief in die palm van U hand
Gee ons 'n wart hart en 'n helder verstand,
sodat ons die ritme van ons lewenspad kan voel en aanvaar.

Wanneer die storms kom,
laat ons asseblief elke keer lang U voete uitspoel.
Gee ons die krag om vol te hou elke dag
sodat ons die lewensreid end-uit kan loop,
elke tree hand-aan-hand met U.

Wanneer dit moeilik raak
help ons om lief te bly vir U, ons Skepper God,
sodat ons almal seën kan ervaar.
Die enigste plek waar ons altyd veilig kan wees, is bu U.
Amen

Thursday, August 25, 2011

Belei jou liefdelose reaksie

Wanneer iemand ons probeer help en in liefde terregwys, gebeur dit soms dat ons kwaad/vies/geafronteerd voel.  Satan probeer enige wyse vind waarop hy ons anders kan oortuig as wat die geval is.  Dit bly egter ons keuse om te kies om 'n liefdelose reaksie te hê of om die terregwysing te aanvaar en die Heilige Gees te vra om ons gewillig te maak om dit reg te stel.  Wanneer jy gekies het om 'n liefdelose reaksie te hê, kan jy weer onder die beskerming van God se sambreel inbeweeg deur dit aan Hom te bely.  Deur Hom te vertrou sal Hy deur Sy kosbare bloed ons vul met liefde vir daardie persoon wat ons terreggewys het.  Pasop vir buitestaanders of selfs jou eie hart wat deur satan onwillig gemaak word om nie te bely nie.  Die keuse bly altyd joune.

Gal 5:26 "Ons moenie te veel van onsself dink , mekaar irriteer of op mekaar jaloers wees nie."

Monday, August 22, 2011

Wanneer iemand jou terregwys, moet dit nie as kritiek ontvang word nie.  God gebruik juis ander mense as Sy intrument waardeur Hy werk.  As gevolg van sonde wat sy oorsprong in die tuin van Eden al het,(ons geërfde sonde) is ons geneig om selfsugtig te wees:  "dis my gevoelens/denke en dit behoort aan my, of ek wil nie my probleem met selfs met iemand professioneel bespreek nie want dis privaat".  Privatisering in jou lewe lei tot 'n distansieering van mense en distansieering van mense bevorder 'n mediese kondisie wat baie alledaags is in ons samelewing:  depressie.  In die sosiale omgewing word jou lewe verryk:  die een se lewe smeer af op die ander en sodoende vind polarisasie van 'n gunstigde omgewing plaas.  Ons het egter altyd 'n keuse en hierdie keuse wat ons maak, beinvloed jou toekoms voordelig of nadeling.  Maak jou keuses in Jesus se naam.

2 Tes 3:15b "...maar wys vir hulle die regte pad aan, soos medegelowiges met mekaar maak."

Friday, August 19, 2011

Here, help my om vandag al my selfsugtigheid en eie wil weg te was,
Sodat ek U die res van my lewe met nederigheid kan dien.

Here, stryk vandag al die plooie, wat deur die jare versamel het,
Uit my gees sodat ek net die mooi in ander sal sien.

O God, help my dat ek sal regmaak waar ek ander te na gekom het.

Here Jesus, help my om met die stoflap van u genade
Die Klein sondetjies wat in my hart skuil,
Weg te vee en skoon te maak.

O God, gee my asseblief die wysheid om die dinge
Te koop wat nodig is en nie wat ek begeer nie,
Omdat ek weet Here, geen aardse skatte weeg op
Teen dit wat in die Hemel wag nie.

Help my, my Vader om die vrugte van die gees:
Liefde, Vriendelikheid, Hulpsaamheid, Sagmoedigheid,
Getrouheid en Selfbeheersing aan my naaste voor te sit.

O God, ek het my huis vir u voorberei.  
Kom woon asseblief in my hart sodat ek die res van my lewe
In u teenwoordigheid kan deurbring.

Dankie Here, vir al my wonderlike vriende.
 

AMEN


Thursday, August 18, 2011

Die balk in ons eie oog

Ons moet versigtig wees om nie die kleinste stofdeeltjie uit die ander persoon se oog te haal, terwyl ons 'n balk in ons eie oog het.  Indien daar een in ons eie oog is, gee God vir ons die keuse om dit in Sy naam reg te stel.  Maar wat word bedoel met die balk in my oog?  Dis ons liefdelose reaksie op die ander persoon se splinter.  Die ander persoon mag wel dalk 'n splinter in sy oog hê, maar ons reaksie op daardie fout is ook verkeerd.  Dit wek weersin, koudheid, kritiek, bitterheid, kwaadpratery of misnoë in ons.  Dit sê Jesus, is baie erger as die foutjie wat dit veroorsaak het.

2 Tim 4:5 "Maar jy moet in elke situasie jou teenwoordigheid van gees behou."

Tuesday, August 16, 2011

My optrede wanneer iemand my splinter uitwys

Baie keer word ons opstandig en dink ons wie gee hierdie ou die reg om my te oordeel?  God het dit reeds so bedoel dat ons mekaar opwek, mekaar tot liefde en goeie dade aanspoor EN mekaar in liefde vermaan.  Onthou dat wanneer jy iemand anders vermaan, jy dit doen in die liefde van Jesus wat in jou uitgestort is en nie om die ander persoon te oordeel nie.  Wanneer ons iemand anders oordeel, stel ons die kriterium vir onsself waarmee God ons sal oordeel eendag (Mat 7:2).  Deur toe te laat dat 'n ander persoon jou vermaan in Jesus se liefde, help ons om te groei in ons verhouding met God.

Die goue lewensreël:
Mat 7:12 "Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen.  Dit is die kern van alles wat die wet en die profete van julle vra."

Monday, August 15, 2011

Die splinter en die balk

In Matteus is daar 'n gedeelte wat handel oor die splinter en die balk in iemand anders se oog.  Wanneer ons dit aanvanklik lees mag ons dalk lees dat dit ons nie verbied om te probeer om die fout in 'n ander persoon te help regstel nie.  Lees dit weer:  God gee eintlik 'n opdrag dat on ten alle koste hierdie guns vir mekaar behoort te doen.  Dit sê nie jy moet "foutvindery" doen nie, nee die Bybel veroordeel dit.  Haal die "foutvindery" uit jou hart, dan sal jy gewillig wees om die ander persoon te help om die splinter uit sy oog te kan haal sonder dat jy hom veroordeel.  Jy behoort soveel om te gee vir daardie persoon dat jy gewillig sal wees om alles in jou vermoë te doen om dit splinter te verwyder, sonder om te oordeel, sodat hy/sy seën in hul lewe kan ontvang.  Jou wagwoord sal dus wees, help iemand anders na die beste van jou vermoë sonder om hom/haar te veroordeel met die uitsluitlike doel dat hy die seën van God in sy lewe kan ontvang en ervaar.

Mat. 7:3-5 "En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp in jou eie oog nie op nie?  Of hoe sal jy vir jou medemens sê:  kom laat ek daardie splintertjie uit jou oog haal, terwyl daar 'n yslike stomp in jou eie oog sit?  Jou skynheilige, haal eers die stomp uit jou eie oog uit.  Dan sal jy ook duidelik kan sien om die splinter uit jou medemens se oog te haal."

Thursday, August 11, 2011

Resultaat van jou geduldige gewag

God verhoor baie beslis ons gebede.  So sal Hy ook jou gebed verhoor wanneer jy vir jouself of iemand anders bid om deur Hom na Golgota se kruis gebring te kan word.  Die skuidsmuur tussen ons sonde en Hom word verwyder en jy of die ander persoon sal instaat wees deur Hom, in die Lig te kan wandel en deursigtig vir Jesus en ander te wees sodat julle mekaar of jouself kan lief hê met 'n rein hart.

Ps 17:7 "U wat red met U sterk hand, toon U wonderlike trou aan hulle wat beskerming soek van vyande."

Wednesday, August 10, 2011

Gevolg van ons nederigheid

Wanneer ons bereid is om voor God te sê "ek is verkeerd" sal Hy in die ander persoon al meer en meer werk deur ons gebrokenheid - meer as wat onsself kan sê of doen.  Die belangrikste faktor hier is tyd.  Ons moet leer wag, dit mag dalk 'n lang tyd neem vir die ander persoon om te verander.  Dit behoort ons eerder te help om God beter te verstaan:  Hy het immers 2000 jaar gelede reeds Sy saak tussen Hom en die mens reggestel.  Hy wag vir jou om te reageer.

Mark 12:22 "Jesus het hulle toe geantwoord:  Julle moet geloor hê in God."

Friday, August 5, 2011

Lê by Sy voete te midde van storms om jou

n Voëltjie kan in die ergste storm op
'n pieperige takkie sit en sê
Breek maar, ek het vlerke.
As jy voel of jou takkie breek onthou.
Jesus is jou vlerke.


Soos druppels op 'n roos val,
Val God se Gees op jou,
En bedek jou vandag met nuwe Lewe,
Nuwe krag, besondere skoonheid
En 'n lieflike Geur.

Mooi harte is soos bome
Mooi gedagtes die wortels
Mooi woorde die takke
Mooi dade die blomme en blare
En jou bereidheid en gehoorsaamheid
Die heerlike VRUGTE!

Thursday, August 4, 2011

Die teken van jou gebrokenheid

Wanneer jy gebreek is voor die kruis, ondergaan jy 'n gedaanteverwisseling.  Jy moet bereid wees om goed reg te maak wat verkeerd was, insluitende met jou kinders.  Dis dikwels die toets of jy werklik gebreek is.  Gebrokenheid voor God, is die teenoorgestelde van hardheid.  Hardheid skreeu:  "dit is jou skuld" terwyl gebrokenheid sê:  "dis my skuld".  Tot jou verbasing, sal die atmosfeer in die huis ook heelwat meer aanneemlik en aangenaam wees.  Laastens onthou dat daar net plek vir 1 op 'n slag by die kruis is:  ek kan nie sê ek was verkeerd maar jy was ook verkeerd, jy moet ook saamkom.  Nee, onthou net 1 op 'n slag.

Job 22:4-5 "Is dit oor jou eerbied vir Hom dat Hy jou aankla en veroordeel?  Hoegenaamd nie!  Dis oor jou boosheid.  Jou skuld ken geen perke nie."

Tuesday, August 2, 2011

Wanneer ek iemand terregwys, moet dit nooit met selfsugtige motiewe gedoen word nie.  Ek doen dit uit liefde vir die ander persoon omdat ek die beste vir hom/haar wil hê.  Dink maar aan jou kind, jy wil net die beste vir hulle hê, maar moet waak teen besluite wat net tot jou voordeel strek.  Jou eie gerief en regte moet gedurig prysgegee word en daardeur sal die liefde van die Jesus in jou geopenbaar word.

Fil. 2:6-8 "Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan wat Hom toekom nie, maar Hy het dit prysgegee:  Hy het 'n slaaf geword en toe Hy as mens geleef het, het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja tot die kruisdood toe!"

Monday, August 1, 2011

Sy genade

Op hierdie pad na herlewing, sal ons oor en oor plekke sien waar ons regte moet prysgee, soos Jesus syne ter wille van ons prysgegee het.  Selfsug en hoogmoed kom binne ons in opstand omdat ons onwillig is om op te offer.  Wat jy eerder moet doen is om die ander persoon se optrede te aanvaar en in nederigheid voor God kom buig sodat God se wil vir jou lewe bekend word.  Heelwaarskynlik wil God jou gebruik om 'n ander persoon te help om sy nood te laat insien.

2 Kor 12:9 "Hy het egter vir my gesê:  My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.  Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk."  :12 " ..... want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk."