Sunday, December 12, 2010

TOT ONS WEER SIEN

Ek gaan vir die tydperk tot en met 10/1/2011 nie boodskappe plaas nie, ons gaan 'n blaaskansie neem.  Geseëende Kersfees en voorspoedige nuwe jaar word julle toegewens!

Friday, December 10, 2010

Maatstaf

Die werklike maatstaf vir 'n man se rykdom is wat hy belê het in die lewe hierna

Efesiërs 6:6 "Moenie mense probeer tevrede stel deur net gehoorsaam te wees wanneer hulle julle kan sien nie.  Nee, werk as slawe van Christus wat met volle oorgawe God se wil doen."

Wanneer jy met jou voertuig op reis vertrek, hou jy getrou by die spoedgrens of hou jy net by die spoedgrens indien jy vermoed dat daar 'n spoedlokval mag wees van die owerhede?  So moet elkeen van ons getrou werk vir Christus, nie net wanneer mense ons dit sien doen nie, maar ook wanneer hulle ons ook nie kan sien nie.  Ons doel op aarde is juis om Sy naam te verheerlik in alles wat ons doen.

Thursday, December 9, 2010

Bemin

Almal verdien om bemin te word, veral hulle wat dit nie verdien nie.

Galasiërs 6:9 "Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes".

Het jy al in jou voertuig gereis met 'n passasier langs jou wat nie noodwendig dieselfde bestuursvernuf as jy het nie?  Is jy van opinie dat jou bestuursvermoë so uitstekend is en dat dit vir enigiemand anders so moeilik sal wees om by jou kers vas te hou, of poog jy eerder om hierdie passasier se vermoë te help verbeter sodat hy/sy ook instaat sal wees om net so goed soos jy te kan bestuur?  Is jy bereid om aan te hou en nog meer te doen wanneer jou passasier nie so goed vorder nie of gaan jy eerder die maklike uitweg kies en tou opgooi?

Wednesday, December 8, 2010

One size fits all

'n Drukkie is 'n groot geskenk! "One size fits all"".

1 Petrus 4:8 "Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê, al tap dit julle energie".

Soms word ons voertuig se "petrol tank" so leeg dat ons voel ons kan net nie meer nie.  Dis dreinerend, energietappend, veeleisend en jy voel sommer klaar met die wêreld.  Wanneer jy so voel, genereer 'n bron van energie deur musiek, oefening, kreatiwiteit, selfs bybelstudie en nog vele ander.

Soms weet ons van so iemand en omdat dit ons nie raak nie, vermy/vergeet ons eenvoudig sulke mense.  Dink net vir jouself, hoe sou jy dit waardeer het indien iemand anders vir jou 'n drukkie as geskenk sou gee wanneer jy so voel.

Vul jou "petrol tank" sodat jy van joune ook kan uitdeel aan ander.

Tuesday, December 7, 2010

Glimlag

Alle mense glimlag in dieselfde taal

1 Korintiërs 13:4-7 "Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.  Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.  Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles (volhard onder alle omstandighede)".

Wanneer jy op reis gaan in jou voertuig, moet jy vooraf verseker maak dat die ruite behoorlik geseël is om reën te kan weerstaan op die pad.  Die voertuig gaan te staan kom met wind, water, stof, insekte en slefs onvoorsiene beskadigings deur bv klippe/ongelukke. 

Maak seker dat jou geestelike voertuig gereed is voor jy op reis vertrek.  Dit mag dalk 'n veeleisende reis wees, so maak seker dat dit te alle tye gereed is, hoe groot/klein die reis ook al mal wees.  Maak seker jy glimlag in Jesus se taal want dit bedek alles, glo alles en volhard onder alle omstandighede.

Monday, December 6, 2010

Maak jou keuse

God gee altyd sy beste aan hulle wat die keuse aan Hom oorlaat

Spreuke 11:30 " Wie die wil van die Here doen, is 'n bron van lewe;  die mens wat wysheid het, red lewens.
Guida Fernandes ┼ 4/12/2010

Op ons lewensreis is daar soms donderstorms.  Ons verstaan nie aldag hoekom/waarom dit gebeur nie en dit bemoeilik ook die rit.  Wat ons meeste van die tyd uit berekening hou, is die feit dat die kleinste blommetjie/plantjie daardie einste reëndruppel nodig het om te kan groei en voort te plant.  God laat die blom se knoppie oopgaan op die regte oomblik, terwyl die blommetjie geduldig wag vir Hom gedurende son, wind en weer.

Het ons nie juis son, wind en weer nodig om ons nader aan Hom, die Bron van die Lewe, te kan bring nie?

Thursday, December 2, 2010

Staan vas in jou geloof

Spesiaal vir my vriendin Guida Fernandes

Staan vas op die skrifgedeelte wat jy sedert verlede jaar met die diagnosering van kanker uitgekies het, Psalm 118:17 "I will not die but life to proclaim the works of the Lord".

Jou gedrag en optrede is 'n spieëlbeeld van God se onvoorwaardelike liefde en goeie dade wat Hy vir elkeen van ons bestem het.  Jy trek die volgende eienskappe soos vermeld in Kol 4:12 aan soos kledingstukke:  deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, en geduld. 
Jou Abba Vader hou Sy hand uitgestrek oor jou en jou gesin in hierdie tyd. 

My gebed vir jou is dat jy Goddelike genesing mag ontvang deur die genade van ons Here Jesus Christus en daardeur soveel mense sal aanraak, soos wat jou hartsbegeerte is, tot eer en verheerliking van Sy heilige naam.  Amen.

Al my liefde Anneli

Wednesday, December 1, 2010

Keuses

God gee altyd Sy beste aan hulle wat die keuse aan Hom oorlaat
Spreuke 4:6 " Moet nooit afstand doen van die wysheid nie.  Dit sal jou beskerm.  As jy wysheid liefhet, sal dit jou beveilig".

Tydens jou reis, neem ek aan, het jy altyd jou GPS byderhand, sodat dit jou taak kan vergemaklik om by jou eindbestemming te arriveer.  Wysheid op jou geloofsreis lei jou na die eindbestemming van God se doel vir jou.  Gebruik hierdie wysheid wat jy as geskenk van God ontvang het as metgesel, dit het enorme waarde en sal jou altyd beskerm wanneer die onweerswolke dreig.