Monday, February 28, 2011

Ontvang net jou geskenk

Is dit nie wonderlik om 'n geskenk wat jy van iemand ontvang het oop te maak nie?  Daardie afwagting om te sien wat dit is, hoe lyk dit, hoe ons dit al klaar in ons kop sien waar en hoe ons dit gaan gebruik.  En uiteindelik is die pakkie oop en daar loer dit vir jou, net joune, niemand anders sin - spesiaal vir jou!  Hoe opgewonde kan ons nie met tye raak oor daardie geskenk wat ons ontvang nie. 
Hoekom is ons dan nie so opgewonde as ons daardie kosbare Geskenk van God ontvang nie?  Dis die geskenk van Jesus wat vir al ons sondes gesterf het.  Ons hoef dit nie eers te verdien het nie, Hy gee dit gratis aan ons, ons moet dit net neem en ons sin maak.  Waardeer hierdie geskenk van God en moenie toelaat dat enigiemand dit van jou kom steel nie, dis bedoel om net joune te wees.  Neem eienaarskap van Sy Geskenk aan jou en maak dit joune elke mili sekonde van die dag.

Romeine 3:22 "God spreek ons vry wanneer ons op Jesus vertrou om ons sonde weg te neem.  Ons kan almal hierdie vryspraak ontvang, maak nie saak wie ons is of wat ons gedoen het nie."
3:24 "Maar nou spreek God ons in Sy onverdiende goedheid vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het - en dit sonder enige verdienste van ons kant."

Friday, February 25, 2011

Pottebakker


Vandag Here gee ek hierdie persoon in U Hande oor
Ek gee sy/haar dag aan U Here, bepaal U dit…
Vorm hom/haar en maak hul net soos U wil Heer,
U is die Pottebakker… en onsons is U klei.
Laat dit so wees Here, Ek vra dit in
Jesus se Mooiste Naam.
Amen.

Thursday, February 24, 2011

Versorging

Ons voertuie word op 'n daaglikse basis gewas, skoongemaak en gepolitoer.  Brandstof en olie word versien en al wat oorbly is die lugdruk van die bande.  Nou is ons gereed om te vertrek na ons onderskeie bestemmings.  Net soos wat ons omsien na ons voertuie, sien God om na ons.  Hy gee vir ons Sy "voertuig", die Heilige Gees, as 'n geskenk en al wat ons hoef te doen is om net aanboord (aanvaar) te klim.  Soos wat ons omsien na die voorgemelde voertuig waarmee ons daagliks reis, sien God om na ons en is Hy in beheer - ons moet Hom net toelaat.

Esegiël 34:15-16 "Ek versorg self my skape en laat hulle in vrede lê en rus, sê die oppermagtige Here.  Ek soek na die wat afgedwaal het en bring hulle veilig terug.  Ek verbind die wonde van die beseerdes en versterk die swakkes.  Maar Ek vernietig die vettes en magtiges.  Ek lei die kudde in reg en geregtigheid".

Wednesday, February 23, 2011

Aanbid Hom alleen

Partykeer word ons so vasgevang in al ons daaglikse bedrywighede dat ons skoon vergeet van God se bestaan en in sommige gevalle dank ons Hom nie vir dit waarvoor ons gebid het nie.  Ons voertuig beweeg dan juis daagliks op Sy hoofweg, al aanvaar ons dit soms maar as van self sprekend.  Jy moet alleenlik op Sy hoofweg bly en nie afwyk op die grondpad langs die hoofweg nie.  Hy is altyd daar, ons moet soms net "remind" word daarvan.

Matteus 4:10 "Toe sê Jesus vir hom: Trap, Satan!  Daar staan in die Skrif:  Jy moet die Here jou God aanid en Hom alleen vereer."

Tuesday, February 22, 2011

Kragtige werking

Het jy geweet dat gebed oor 'n onbeskryflike kragtige werking beskik?  Dalk het jy al van mense gehoor wat daarvan praat of dalk was jyself so gelukkig om dit self te ervaar.  Het jy al ooit in 'n situasie gestaan waar jy nie weet hierheen of daarheen nie.  Dit is die regte plek waar jy in gesprek (gebed), nederig voor God kan staan en Hom versoek om vir jou leiding te gee in daardie spesifieke area.  Wees geduldig en onthou, dis op Sy tyd en nie op jou tyd nie.  Laat toe dat jou voertuig net dobber in die onstuimige water om jou, Hy sal vir jou uitkoms gee.  Ten slotte, onthou om Hom te dank wanneer jy jou geskenk van Hom ontvang.

Efesiërs 1:18-19 "Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig Sy roeping inhou.  Mag julle insien hoe 'n ryk heerlikheid dit is dat God Sy eie mense vir Hom as 'n volk verkry het.  Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo."

Monday, February 21, 2011

Leef

Hoe moet ek dan leef tot eer van God? 
God verwag onder andere van ons om die reis te begin op 'n nederige wyse, gehoorsaam  te wees aan Hom, in eerbied en ontsag voor Hom te kan staan en daardeur sal ons 'n reis weerspieël wat getuig dat ons gered is.  Die vermoë om dit te doen lê egter nie in onsself nie, maar in God, Hy maak ons gewillig.  Wat ook al oor jou pad kom tydens jou reis, moenie kla of teëpraat.  Maak seker dat jou ligte aangeskakel is om helder skyn te skyn in die donkerte.

Filippense 2:15-16 "Dan sal julle as onberispelike kinders van God bo verdenking staan.  Julle sal skoon lewe in 'n wêreld vol oneerlike en perverse mense.  Skyn in hierdie donker wêreld soos helder sterre deur noukerig te leef volgens die boodskap wat tot die lewe lei.  Dan, wanneer Christrus terugkom, sal ek tevrede wees dat ek nie verniet gejaag en geswoeg het nie."

Thursday, February 17, 2011

Floyd McClung quote

The most foolished thing a Human can do, is refuse the all-wise, loving, absolutely pure, holy, just, forgiving, merciful Creator of the universe and His rightful place over our lives as His creation.

Who are we to refuse Him?

Juig

God sê vir ons in Saf 3:17 Hy kan ons nie "drop" nie. Hy is bly oor jou, Hy jubel en juig oor jou, Hy vra dat jy stil tevrede sal wees in Sy liefde.  Soms word ons so besig dat ons nie tyd maak om 'n intieme verhouding met God te bou nie.  Sy fokus is altyd op ons, al wat ons hoef te doen is om op ons knieë te gaan en sê:  "hier is ek Here".  Hy sal jou gebed verhoor op die regte oomblik wat Hy vir jou bestem het.

Safanja 3:17 "Die Here jou God is by julle.  Hy is 'n magtige verlosser.  Hy is buitengewoon bly oor julle.  Sy liefde sal julle rustig maak.  Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel.

Tuesday, February 15, 2011

Aanvaarding van God

God aanvaar ons onvoorwaardelik.  Die geskenk van die Ewige lewe gee Hy vir ons deur Jesus Christus as ons Verlosser, al wat ons te doen staan is om die geskenk te aanvaar.  Sy liefde vir ons is onselfsugtig, ons moet dit net aanneem en ontgun.  Hy het ons reeds lief gehad voordat ons hierdie wêreld binne gegaan het.  God ken elkeen van ons se hart, beter as wat ons dit self ken.  Neem die geskenk wat God aan jou gegee het en maak dit joune.

Psalm 40:12 "Here, moenie U ontferming van my weghou nie.  Laat U liefde en trou my altyd beskerm."

Monday, February 14, 2011

Eienskappe van die Vaderhart: dink aan jou

Soms voel ons afgeskeep of selfs dat ons nooit aandag kry nie.  Sommige van ons was dalk nie so gelukkig soos ander om aandag van ons ouers af te ontvang - soos ons dit graag wou  hê nie en daardeur het ons 'n opinie gevorm dat ons ouers ons afskeep of nooit aandag gee nie.  Ek wil vanoggend vir jou vra dat indien jy  van so opinie is, jy vanoggend die besluit sal maak om jou ouers vry te spreek daarvan voor God.  Bid dat die Heilige Gees jou sal help en die pad sal aanwys sodat jy bevry kan word daardie opinie en beseël jou gebed in die naam van Jesus wat se kosbare bloed vir ons sondes gevloei het.  Gaan van vandag af vorentoe en probeer ook jou kinders se gevoelens in ag te neem deur te let op die manier hoe jy jouself oordra en wat jy aan hulle oordra.  Wees verseker dat God se aandag altyd op jou is en Hy dink altyd aan jou  - Hy sal jou nooit afskeep nie. 

We use people to get things, God uses things to bless people.

1 Petrus 5:6-7 "Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op Sy tyd sal Hy julle groot maak.  Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om".

Mag God jou seën met 'n gelukkige valentynsdag!

Thursday, February 10, 2011

Brandende liefde van God vir Sy kinders

God beeld uit in Hosea 11:1-4 hoe hy Israel lief gehad het toe Israel nog 'n kind was.  Ten spyte van die feit dat hulle weggedwaal het van Hom en aan die Baals van die wêreld aangehang het, het Hy hulle nogsteeds so lief gehad, dat hulle nog so kosbaar vir Hom was dat Hy hulle leer loop het, in Sy arms gedra en hulle versorg het.  Net so het Hy ons ook lief en weef ons met Sy liefde aanmekaar.  Sy liefde vir ons brand so sterk dat Hy getrou bly en ons nie wil laat vaar nie, ons is te kosbaar vir Hom.  Sy Vaderlike beeld lei ons en Hy ontferm Hom oor ons deur neer te buig en ons te versorg.

Hosea 11:1-4 "Ek het Israel liefgehad toe hy nog 'n kind was.  Ek het my seun uit Egipte geroep.  Maar hoe meer die Baals hom geroep het, hoe verder het hy van My af weggegaan.  Hulle het aan die Baals offers gebring en wierook vir afgodsbeeld gebrand.  Dit was Ekself wat Israel geleer het om te loop;  Ek het hom in my arms gedra.  Maar hy het nie erken dat dit ek was wat hom versorg het nie.  Met mensebande, met toue van liefde het Ek hulle getrek.  Ek was vir hulle soos iemand wat die slawering wat teen die nek druk, wegneem.  Ek het My na hom toe neergebuig, Ek het hom versorg."

Wednesday, February 9, 2011

Betroubaarheid

God bly altyd getrou aan ons terwyl ons soms kan afdwaal.  Soms kom daar individue oor ons pad wat jou betroubaarheid in mense negatief beïnvloed.  Mense het jou dalk telleurgestel en jy sukkel om weer iemand te vertrou.  God bly altyd getrou aan ons, al mag ons soms van opinie wees dat Hy nie 'n situasie soos dit/dat met ons sou laat gebeur het nie.  Onthou, elke insident - goed of sleg- suiwer ons volgens Sy plan. 

2 Timoteus 2:13 "Maar as ons ontrou is - Hy bly getrou, want Hy kan nie aan Homself ontrou word nie."

Tuesday, February 8, 2011

Die vaderhart van God 2

Het jy God se liefde, vir jou as Sy kind aangegryp en joune gemaak.  Sy ope uitnodiging was reeds lankal daar vir ons, maar in ons onkunde het dit by ons verby geglip.  God se liefde vir ons as mens, was so groot, groter as wat ons ooit sal kan begryp.  Hy het ons immers na Sy beeld geskape, ons so lief dat Hy Sy Enigste kind vir ons sondes gegee het om ons, na Sy beeld, te red.  Watter ouer, sal bereid wees om sy enigste kind te offer?  ..... Jy is reg net God.

Nadat Jesus opgevaar het hemel toe, stuur Hy vir ons die Heilige Gees om met ons te wees sodat ons in Hom kan wandel.

Romeine 8:15  "Die Gees wat julle ontvang het, is nie 'n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie.  Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit to God:  Abba - ons liewe Vader".

Monday, February 7, 2011

Die vaderhart van God 1

Gedurende die volgende week sal eienskappe van ons God se hart vir ons (sy kinders) bespreek word.  Neem dit ter harte en maak dit jou eie deur toe te pas in jou eie lewe.

Hy gee eenvoudig net Sy onvoorwaardelike liefde vir ons sonder dat ons dit verdien het.  Dit is tot ons beskikking, ons moet net die geleentheid aangryp om die te gebruik.  Die sleutel is in ons hand, ons moet net leer om dit gebruik, die voertuig is reeds tot ons beskikking.  Hy is so lief vir ons, dat Hy ons Sy kinders noem.  Hoe goed jy die Voertuig koester, hang van jouself af.  Is dit nie lekker om te weet jy kan dit maar net kry, verniet, dis joune onvoorwaardelik!

1 Johannes 3:1  "Kyk net hoe 'n groot liefde die Vader aan ons betoon het.  Dit is dat Hy ons sy kinders noem en ons is dit beslis ook.  Daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie ken nie."

Friday, February 4, 2011

Hoekom word die trouring aan jou ringvinger gedra?


Die Duim verteenwoordig jou OUERS
Die Wysvinger verteenwoordig jou BROERS & SUSTERS
Die Middel-vinger verteenwoordig jy - JOUSELF
Die Ring-vinger
verteenwoordig jou EGGENOOT (jou man/vrou)

die Pinkie verteenwoordig jou KIND(ERS)

Eerstens, maak jou hande oop, vingers teenoor mekaar en buig/vou

die middel vingers inwaarts
Nou, probeer jou duim, wat jou OUERS verteenwoordig, weg vat/oopmaak van mekaar. . . jy kry dit reg, nè??!!

Dit is omdat jou ouers nie bestem is om jou hele lewenspad saam met jou te stap nie.
Hulle gaan jou een of ander tyd verlaat.
 
Maak nou jou duime weer toe/bymekaar en probeer jou wysvingers, wat jou broers en susters verteenwoordig, weg vat/oopmaak van mekaar. Jy sal dit ook kan regkry, want jou broers en susters sal eendag gesinne/families van hul eie hê en so ook hul aparte lewens lei van joune. 

Sit jou wysvingers weer terug bymekaar en probeer nou jou pinkies, wat jou kinders verteenwoordig, weg vat/oopmaak van mekaar. Hulle òòk sal oopgaan want jou kinders gaan ook eendag kinders van hul eie hê, hul eie gesinne en families hê, apart van joune. 


Hoekom?  Want Man en Vrou is bestem om hul lewenspaaie saam te loop, 7x7 sakke sout saam op te eet, deur dik en dun mekaar onvoorwaardelik lief te hê!

Laastens, plaas jou pinkies weer terug bymekaar en probeer nou jou ringvingers, wat jou eggenoot (man of vrou) verteenwoordig, weg vat/oopmaak van mekaar. Jy kan nie! Al probeer jy hoe hard, sonder om jou ander vingers oop te maak!

. . . en dis hoekom ons ons trou ringe aan ons ring vingers dra!

 
 

Thursday, February 3, 2011

Heuwels

Om 'n huwel baas te raak moet ons bo uitkom en gelukkig is daar die afdraande.

Soms funksioneer ons voertuie maar bra swaar teen 'n heuwel uit.  Dit vra ook dikwels dat ons na 'n laer rat moet terugskakel om die heuwel baas te raak sodat ons bo uitkom.  Ons voertuig spook en spartel om bo uit te kom, maar as gevolg van die laer rat, waarvan ons bewus is, het ons tog bo uitgekom bo alle verwagtinge.  Elke opdraande het darem ook 'n afdraande.  So, dink net hoe lekker moet dit wees om te "free" saam met Jesus.

 Hebreërs 11:1 "Wat is geloof dan?  Dit is 'n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur.  "Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.  Juis op grond van hierdie geloof wat hulle aan die dag gelê het, word daar so positief oor die mense van vroeër getyug".

Wednesday, February 2, 2011

Sleutel

Bewaar jou voertuig se sleutel veilig.

Ons wend 'n voertuig se sleutels aan om die voertuig oop en toe te sluit.  Ons tree nie nalatig op deur die sleutel vir enigiemand te gee nie.  Wanneer ons daarsonder is, beland ons in 'n penarie omdat ons niks kan verrig sonder die voertuig se sleutel nie.  Dit sal jou ook nie veel in die sak bring as jy kwaad word omdat jy nie die voertuig se sleutel kan vind nie.  Bewaar jou voertuig se sleutels veilig met die oog op flinke herwinnig vir jou toekomsitge rit.

Efesiërs 4:30-31 "En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.  Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie;  moenie vloek of skel nie;  moet niks doen wat sleg is nie"

Tuesday, February 1, 2011

Leefstyl

'n Goeie leefstyl werk vrugte af

Is jy soms net moeg, uitgeput, kapoet en klaar met die lewe?  Almal van ons was al op so pitstop in ons lewe.  Gelukkig is dit net 'n pitstop en bly ons nie vir altyd daar geparkeer nie.  Gryp die geleentheid aan om te skuil by Jesus terwyl jy "geparkeer" staan vir daardie oomblik in jou lewe.  Behou goeie moed en bid op dit wat Jesus vir jou wil leer.  Dit is Sy geleentheid om ons weer op te bou om uit die pitstop te kan vertrek op 'n volgende reis.

2 Petrus 1:5-8 "Juis om hierdie rede moet julle alles in julle vermoë doen om te wys dat hierdie beloftes vir julle waar geword het.  Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is.  'n Goeie leefstylbring weer mee dat jy God beter leer ken.  As 'n mens God ken, kan jy jouself dissiplineer.  Selfdissipline bring weer mee dat 'n mens kan uithou en aanhou, en hierdie volharding loop uit op 'n lewe naby aan God.  'n Lewe naby aan God skep liefde vir ander gelowiges, en uiteindelik is dit hierdie positiewe houding teenoor medegelowiges wat meebring dat jy almal lief het.  Hoe meer julle op hierdie wyse groei, hoe meer sal die feit dat julle ons Here Jesus Christus ken, veroorsaak dat julle nie nutteloos en geestelik onproduktief is nie."