Friday, January 21, 2011

DIE GOD VAN PSALM 23

'n Beroemde akteur is per geleentheid as eregas na 'n dinee by 'n
aftreeoord genooi. Na ete was daar lofbetuigings oor die akteur se
roemryke loopbaan en is hy gevra om iets voor te dra.

Hy het gevra of daar 'n spesiale versoek is. Die mense was maar skaam
en was ook nie so bekend met sy repertorium nie. Toe staan 'n ou
man op en vra: Sal u nie asseblief vir ons Psalm 23 voordra nie?
Die akteur was effens uit die veld geslaan, want hy was eintlik bekend
vir sy vertolking van Shakespeare. Hy het 'n bietjie geaarsel en toe
sê hy: Met plesier. Ek dink ek ken nog die woorde.

Toe hy met sy pragtige stem en korrekte uitspraak begin voordra, het
almal behoorlik aan sy lippe gehang. Nog nooit het iemand die psalm
vir hulle so mooi voorgedra nie. Toe hy klaar was, het 'n spontane
handeklap losgebars.

Baie dankie. Baie dankie... Die akteur was amper aangedaan deur die
gehoor se waardering vir sy poging. Spontaan sê hy: Maar nou wil ek
graag 'n guns vra. Sal die persoon wat gevra het dat ek die psalm
voordra, dit nie ook vir ons voordra nie?

Ek, het die bejaarde dominee verbaas gevra? Ek weet niks van
voordragkuns nie en my stem is maar taamlik treurig. Maar as u dit as
'n guns vra, kan ek nie weier nie. Die akteur beduie dat hy vorentoe
moet kom, maar die ou man glimlag en sê: Toemaar, ek staan sommer hier
by my sitplek.

Toe begin hy met sy ietwat krakerige stem Psalm 23
voordra... Aan die einde van die psalm het niemand hande geklap nie,
maar die hele gehoor het met geboë hoofde gesit en min oë was droog.
Sien julle die verskil? vra die akteur met oë vol trane. Ek het julle
oë en ore bereik, maar hierdie man het julle harte geraak.

Want sien, ek ken Dawid se psalm, maar hierdie man ken die God van die psalm.

No comments:

Post a Comment