Thursday, July 28, 2011

Die liefde soos omskryf in 1 Kor 13 is 'n beskrywing van God se liefde vir ons.  Dit word deur Hom aan ons geskenk.  Jy kan selfs hierdie liefde gebruik wanneer liefdeloosheid begin kop uitsteek omdat Jesus se reinigende fontein van bloed altyd tot ons beskikking is.  Hy los ons nooit, dit is ons wat sondig en Hom dan los, maar Hy is 'n genadige God wat dit weer vir ons beskikbaar stel. 

Jak 2:12-13 "Sorg dus dat jou woorde en dade wys dat jy iemand is wat weet dat jy beoordeel gaan word deur die wet wat vrymaak, die wet van die liefde.  Jy sal verseker geen deernis kry as jy nie deernis betoon nie.  God se deernis vir jou is egter sterker as sy oordeel."

Tuesday, July 26, 2011

Die keuse van herlewing

Wanneer ek myself gekonfronteer het oor die onderwerp van gister, kan ek kies om 'n keuse te maak.  Indien ek herlewing kies, verlang ek dat die Heilige Gees teenwoordig sal wees in my alledaagse lewe.  Wat die herlewingsproses voorafgaan is dat ek die teenwoordigheid van sonde in my lewe moet herken en erken, my eie sonde, nie iemand anders sin nie.  Wanneer ek dit erken, bely ek hierdie sonde by die kruis van Jesus en vertrou Hom om my daarvan te reinig.  Wanneer dit gebeur, vloei Sy selfopofferende liefde, lankmoedigheid en verdraagsaamheid deur ons harte.  Sy bloed reinig ons daarvan en Hy verwag dat ons die sondes wat ons bely het nou by Hom los - dit nooit weer terug te neem nie.  Die bloed van sy reinigende fontein maak dat ons nooit weer herinner moet word daaraan nie, ons is reeds vergewe.  Ons neem Jesus aan en Hy is nou ons sin en so ook is sy natuur ons sin.

Mat 12:31 "Dit verseker Ek julle:  God sal elke sonde of lastering vergewe, maar lastering teen die Heilige Gees sal Hy nie vergewe nie."

Monday, July 25, 2011

Verwaandheid

Verwaandheid openbaar homself in verskeie maniere.  Daardie gedagte van: "ek weet beter, ek het beter, wil onsself laat geld oor ander, minagting van 'n ander persoon, manipulasie, houding van meerwaardigheid, onvriendelikheid, ongeduld, jaloesie, verwaandheid, eiesinnigheid, selfsug, verbitterdheid, weersin, ens. is deel hiervan.  Dit bring spanning, skeiding en onenigheid in gemeenskap met God en ander mense.  Indien jy hierdie kenmerke herken in jou eie lewe/gesinslewe, het jy die keuse om 'n verandering te maak.  Die vraag is:  is ek honger genoeg om gewillig te wees sodat verandering kan plaasvind of gaan die "eie ek" (jou eie wil) maar voort om die stryd te voer?  Indien jou keuse die tweede opsie is, hou in gedagte dat dit 'n lang, uitputtende en uitgerekte reis sal wees wat jou siel gaan vernietig.

Gal 5:16 "Ek sê:  laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word.  Dan sal julle glad nie aan die begertes van julle sondige geaardheid toegee nie."  


Friday, July 22, 2011

Dankie Heer

dat U my met U hand gevorm het;
U het my soos klei gevorm en berei;
Dit is U wat vir my bene, senings en vleis gegee het
en dit versigtig toegevou het met vel;
U het dit met liefde aanmekaar geweef
en U voorsien my van U ruag sodat ek kan asem haal en lewe;
U sorg waak in liefde oor my, elke dag van my lewe.
Amen.

Thursday, July 21, 2011

Wat is verkeerd in ons huis (2)?

Dit gebeur dat ons te bang is om ernstig en openlik te wees oor 'n krisis.  Bang dat ander nie te naby aan ons moet kom en sien wie ons werklik is nie.  Mense vermy iemand wat nie opreg is nie en so word die intieme gemeenskap in die huis negatief beinvloed.  Die behoefte om mekaar werklik lief te hê word ondermyn.  Maar wat beteken liefde dan nou eintlik?  Dit is nie 'n sentimentele gevoel of 'n passie nie. 
1 Kor 13 vertel vir ons dat liefde in der waarheid kwaliteite het soos:
  • dis geduldig en vriendelik;
  • dis nie afgunstig nie;
  • dit praat nie groot nie en is nie verwaand nie;
  • dit handel nie onwelvoeglik (onbeskof) nie;
  • dit soek nie eie belang (selfugtig) nie;
  • dis nie liggeraak (geirriteerd) nie;
  • dit hou nie boek van die kwaad nie (koester geen kwaadwillige/onvriendelike gedagtes oor ander nie);
Die liefde gaan dus nie oor "my" nie maar moet in belang strek van die betrokke partye.

Tuesday, July 19, 2011

Wat is dan verkeerd in ons "huis" (1)?

Ons verhouding met mekaar in die huisgesin is verkeerd:  dis nie waarlik openhartig nie.  Ons leef elkeen agter ons eie skerm sodat die wat selfs die naaste is aan ons, nie weet wat met ons omgaan nie - ons moeilikhede, worstelings, telleurstellings en ook dit waarvan die Here ons moet reinig nie.  Ons probeer dit verberg van God en van mekaar en dit bring sonde mee. 

Rom 12:1-2 "As julle dink aan alles wat God in sy groot ontferming vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as 'n lewende en heilige offer.  Dit is die soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak.  Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvou deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe.  Dan sal julle goed kan onderskei wat Hy wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is."

Monday, July 18, 2011

Teenwoordigheid van die duif

Die duif is 'n teken van vrede - 'n aanduiding dat ons gereinig is deur die bloed van Jesus en waarin ons in nederigheid met Hom, die Lam, wandel. Vrede is die teken van die Heilige Gees se teenwoordigheid en volheid.  Wanneer die duif ophou sing in jou hart, is dit omdat die vrede versteur word en dat die oorsaak sonde is. 

Kol 3:15 "En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee."