Thursday, March 31, 2011

Hoekom moet afsterwing van die "eie ek" geskied?

Wanneer ons nie bereid is om aan die "eie ek" (trots) te sterf nie gaan 'n mens verbitterd en ongelukkig deur die lewe.  Ons is ongelukkig en soms weet ons nie eintlik hoekom nie.  As ons dit nie laat afsterf nie, dan kan die Heilige Gees nie meer word binne in ons nie.  Eers dan begin ons hart sy beker uitsteek vir Jesus om uit Sy Kruik te skink en dit tot oorlopens toe te vul.  Hoe meer die "eie ek" afsterf hoe meer sal ons ware vrede en vreugde beleef.

Kolossense 1:19-20 "God het dit goedgedink om met Sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur die Seun goeie verhouding met alles in die hemel en op die aarde te herstel.  Hierdie vrede is bewerk deur die bloed wat aan die kruis gevloei het".

Tuesday, March 29, 2011

Die Kruik

Die mens se hart word uitgebeeld in die metafoor van 'n beker.  Jesus word uitgebeeld in die metafoor van 'n goue kruik.  Diep binne die mens se hart, moet daar 'n behoefte ontstaan om sy beker uit te steek na die Goue Kruik sodat Hy ons beker kan vul met die water van die Lewe wat uit Hom vloei.  Hy is die oorsprong van die strome lewende water wat deur ons vloei en ons deurdrenk daarin.  Hy is alomteenwoordig altyd, of dit goed of sleg gaan met ons.  Terwyl Hy verby ons beker beweeg, vul Hy ons beker tot oorlopens toe vanuit Sy Goue Kruik met Sy seën.  Het jy al vandag jou beker uitgesteek sodat Hy dit kan vul?

Spreuke 24:14 "Net so is wysheid vir jou lewe.  As jy daarop afgekom het, is daar vir jou 'n toekoms.  Jou hoop sal nie verydel word nie."
Spr 24:16 "Selfs al val 'n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan.  Die goddelose mens sal bly lê na net een ramp."

Monday, March 28, 2011

Die beker van genade

Ons  moet totaal en al, van kroontjie tot toointjie deurdrenk wees deur die Heilige Gees.  Dis eksklusief en uitsluitlik die werk van God om genade aan ons te skenk.  Al wat ons moet doen is om 'n begeerte in ons hart te hê om die beker van ons hart aan te bied sodat Hy hierdie beker kan vul.  Hy vul dit met die water van die Lewe, sodoende ontvang ons krag van Bo om alle dinge wat moontlik oor ons pad mag kom, met volharding en gehoorsaamheid in Sy naam te kan oorkom.

2 Tessalonisense 3:3 en 3:5 "Maar die Here is getrou!  Hy sal julle sterk maak en van die Bose bewaar".
"Mag die Here julle hele lewe instel op God se liefde en die volharding wat Christus aan ons gee".

Friday, March 25, 2011

Quotes

And you know when you've experienced grace and you feel like you've been forgiven,
You're a lot more forgiving of other people.  You're a lot more gracious to others - Rick Warren.

Simplicity is making the journey of this life with just baggage enough - unknown author.

Be content with what you have, rejoice in the way things are.  When you realise there is nothing lacking, the whole world belongs to you - Lao Tzu

Enjoy your weekend and may you be blessed by His grace.

Thursday, March 24, 2011

Hoe bly ek leef in oorwinning?

Daar is net een lewe wat Hom tevrede kan stel en dit is wanneer Sy lewe meer is binne in ons en dat die "eie ek" binne in my minder word.  Die crux lê in die voortdurende afsterwe aan die self en die Heilige Gees wat al meer word binne in ons en basies deur ons vloei na ander mense.  Ons kan slegs met Sy lewe gevul word wanneer ons die keuse maak om bewustelik en voortdurend die regte sedelike keuses te maak. 

Wat is jou keuse?

Galasiërs 6:2 "Help ander gelowiges wat swaarkry en gee so uitvoering aan Christus se liefdeswet."

Wednesday, March 23, 2011

Oorwinnende lewe

Die oorwinnende lewe word verkry deur herlewing en dit is om geheel en al met die Heilige Gees vervul te wees.  Deur genades ontvang ons die geskenk van Heilige Gees wat Hy oorvloediglik aan ons gee.  Dit is uitsluitlik die werk van God, nie ons sin nie. 

Wat ons wel moet doen is om ons leë, gebroke self tot Sy beskikking te stel sodat Hy ons kan vul en voortdurend toelaat dat Hy ons aanhou vul.  Soos water die laagste plek soek om dit te vul, so vloei God se heerlikheid en krag deur ons wanneer ons leeg en vernederd gevind word.  Hy's daar, roep Hom net aan, Hy wag vir jou.  Wat ons wel weet is dat Hy ons leë, gebrokenheid reeds saam met Hom aan die kruis gedra het en dat Hy vir ons rus en vrede belowe.  Is ons bereid om deur te gaan wat Hy meegemaak het?

Markus 15:16-20 "Die soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier gebring.  Toe roep hulle die hele regiment bymekaar en trek vir Hom 'n pers mantel aan.  Hulle vleg toe ook 'n kroon van dorings en sit dit op sy kop.  Daarop begin hulle Hom salueer met die woord:  Ons groet u, o Koning van die Jode!  Hulle slaan Hom toe met 'n riet teen sy kop, spoeg op Hom en maak kniebuigings asof hulle eer aan Hom wil betoon.  Toe hulle moeg geword het om die spot met Hom te dryf, het hulle die pers mantel uitgetrek en Hom weer sy eie klere aangetrek.  Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig".


Tuesday, March 22, 2011

Ons rol as 'n gewillige wurm

As Jesus gewillig was om vir ons 'n "wurm" te wees waarna verwys is op Donderdag 17/3/2011, het Hy nie juis vir ons 'n voorbeeld hierin gestel om ons regmatige plek as wurms vir Hom uit te beeld nie?

Jesus se Bergrede handel juis oor nieverset, liefde vir die vyand en onselfsugtige diens.  Wanneer ons sterf aan die self, neem ons aanvanklik aan dat die "eie ek" gebreek is en verby is.  Dit is egter 'n voortdurende proses daarna in die sterf van "die self".  Die afsterwe in "die self" is Sy manier om 'n diep kanaal van stromende waters van Jesus deur ons te laat vloei.  In praktiese toepassing word verwys na elke vernedering wat ons mag beleef, geduld wat beproef word deur iets of iemand, daardie oomblik wat iemand vir jou iets sê wat jy nou nie eintlik wou hoor nie en so gaan die lys aan .......

Matteus 16:25 "As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor.  Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind."