Wednesday, August 31, 2011

Paraatheid en die anderkant van die muntstuk

Wanneer God jou lei om met iemand te praat oor sy foute moet jy nie bang wees nie.  Moet ook nie argumenteer of druk toepas op die persoon nie.  Sê net dit wat God op jou hart geplaas het en laat dit daar, jy plant die saadjie.  Dis die Heilige Gees se werk om hom te oortuig, nie jou werk nie.  God het die regte tyd bestem om daardie persoon se "trotse, hardkoppige, eie ek" gewillig te maak om te buig voor Hom.  Onthou ook dat wanneer dit jou beurt is om gekonfronteer te word, jy nie jouself verdedig of jou optrede probeer verduidelik nie.  Aanvaar dit in stilte en dank die ander persoon wat jou terreggewys het en dank God daarvoor.  Gaan nou en gaan raadpleeg God oor hoe jy dit moet hanteer.

Jes 50:10 "Wie van julle dien die Here en doen wat Sy dienaar sê?  Hy wat sonder enige lig in die donker loop, moet vertrou op die Naam van die Here en staatmaak op sy God."

Tuesday, August 30, 2011

Ontvang die seën

Soos die Heilige Gees jou lei in nederigheid en liefde tydens terregwysing, sal die ander persoon gewillig word om daardie sonde af te lê voor Jesus, mits die persoon 'n werklike nederige en ontvanklike gees het.  Hy sal dankbaar wees vir die terregwysing, want wanneer ons sonde nie aflê of ander toelaat om ons in die regte gesindheid terreg te wys nie, blokkeer ons die seën wat God bestem het vir ons lewe.  Die persoon wat jy terreggewys het, sal weet dat jy dit doen in liefde en omdat jy besorgd is, nie omdat jy selfsugtige motiewe het nie.  God sien immers alles wat in ons hart aangaan.


Johannes 9:39 "Jesus sê toe:  Ek het na hierdie wêreld toe gekom om te oordeel sodat die mense wat nie sien nie, kan sien, en die wat sien, hulle blindheid kan ontdek."

Monday, August 29, 2011

Die wyse van terregwysing

Wanneer jy by die kruis jou liefdelose gesindheid teenoor ander bely in 'n gesindheid van opregte berou teenoor die Heilige Gees, kan jy bid dat Jesus jou vergewe.  Jy kan verseker wees in jou hart dat wanner dit in opregte berou gedoen is, Hy jou sal vergewe.  Die Heilige Gees sal jou hart verlig en jy kan weet dat dit net 'n projeksie van iets binne-in jouself was wat afgelê is as sonde.  Die liefdevolle terregwysing mag verborge dinge openbaar waarvan ons skaars bewus was.  Die verskil is net dat die Heilige Gees jou nou moet lei om hierdie persoon in liefde en nederigheid terreg te wys en die die "eie ek" in jou nie.

2 Kor. 6:2 "Op die regte tyd het Ek jou verhoor, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.  Dit is nou die geskikte tyd;  dit is nou die dag van verlossing."

Friday, August 26, 2011

Juanita du Plessis se gebed

Liewe Heer
Hou elkeen asseblief in die palm van U hand
Gee ons 'n wart hart en 'n helder verstand,
sodat ons die ritme van ons lewenspad kan voel en aanvaar.

Wanneer die storms kom,
laat ons asseblief elke keer lang U voete uitspoel.
Gee ons die krag om vol te hou elke dag
sodat ons die lewensreid end-uit kan loop,
elke tree hand-aan-hand met U.

Wanneer dit moeilik raak
help ons om lief te bly vir U, ons Skepper God,
sodat ons almal seën kan ervaar.
Die enigste plek waar ons altyd veilig kan wees, is bu U.
Amen

Thursday, August 25, 2011

Belei jou liefdelose reaksie

Wanneer iemand ons probeer help en in liefde terregwys, gebeur dit soms dat ons kwaad/vies/geafronteerd voel.  Satan probeer enige wyse vind waarop hy ons anders kan oortuig as wat die geval is.  Dit bly egter ons keuse om te kies om 'n liefdelose reaksie te hê of om die terregwysing te aanvaar en die Heilige Gees te vra om ons gewillig te maak om dit reg te stel.  Wanneer jy gekies het om 'n liefdelose reaksie te hê, kan jy weer onder die beskerming van God se sambreel inbeweeg deur dit aan Hom te bely.  Deur Hom te vertrou sal Hy deur Sy kosbare bloed ons vul met liefde vir daardie persoon wat ons terreggewys het.  Pasop vir buitestaanders of selfs jou eie hart wat deur satan onwillig gemaak word om nie te bely nie.  Die keuse bly altyd joune.

Gal 5:26 "Ons moenie te veel van onsself dink , mekaar irriteer of op mekaar jaloers wees nie."

Monday, August 22, 2011

Wanneer iemand jou terregwys, moet dit nie as kritiek ontvang word nie.  God gebruik juis ander mense as Sy intrument waardeur Hy werk.  As gevolg van sonde wat sy oorsprong in die tuin van Eden al het,(ons geërfde sonde) is ons geneig om selfsugtig te wees:  "dis my gevoelens/denke en dit behoort aan my, of ek wil nie my probleem met selfs met iemand professioneel bespreek nie want dis privaat".  Privatisering in jou lewe lei tot 'n distansieering van mense en distansieering van mense bevorder 'n mediese kondisie wat baie alledaags is in ons samelewing:  depressie.  In die sosiale omgewing word jou lewe verryk:  die een se lewe smeer af op die ander en sodoende vind polarisasie van 'n gunstigde omgewing plaas.  Ons het egter altyd 'n keuse en hierdie keuse wat ons maak, beinvloed jou toekoms voordelig of nadeling.  Maak jou keuses in Jesus se naam.

2 Tes 3:15b "...maar wys vir hulle die regte pad aan, soos medegelowiges met mekaar maak."

Friday, August 19, 2011

Here, help my om vandag al my selfsugtigheid en eie wil weg te was,
Sodat ek U die res van my lewe met nederigheid kan dien.

Here, stryk vandag al die plooie, wat deur die jare versamel het,
Uit my gees sodat ek net die mooi in ander sal sien.

O God, help my dat ek sal regmaak waar ek ander te na gekom het.

Here Jesus, help my om met die stoflap van u genade
Die Klein sondetjies wat in my hart skuil,
Weg te vee en skoon te maak.

O God, gee my asseblief die wysheid om die dinge
Te koop wat nodig is en nie wat ek begeer nie,
Omdat ek weet Here, geen aardse skatte weeg op
Teen dit wat in die Hemel wag nie.

Help my, my Vader om die vrugte van die gees:
Liefde, Vriendelikheid, Hulpsaamheid, Sagmoedigheid,
Getrouheid en Selfbeheersing aan my naaste voor te sit.

O God, ek het my huis vir u voorberei.  
Kom woon asseblief in my hart sodat ek die res van my lewe
In u teenwoordigheid kan deurbring.

Dankie Here, vir al my wonderlike vriende.
 

AMEN